Printable PDF Version

'n Fenomenologiese Navorsingsontwerp Geïllustreer

Thomas Groenewald

Thomas Groenewald, Professionele Opvoedkundige Dienste, Universiteit van Suid-Afrika, Florida, Suid-Afrika

Vertaal deur Nelia van der Linde

Opsomming: Hierdie artikel fokus op die kernbeginsels van 'n fenomenologiese navorsingsontwerp en illustreer die fenomenologiese metodologie deur middel van 'n spesifieke studie. Na 'n kort oorsig van die ontwikkelinge van die fenomenologie, volg die navorsingsparadigma van die spesifieke studie. Daarna word die lokalisering van die data, die data-insameling en die datavasleggingsmetodes verduidelik. Ongestruktureerde, in-diepte fenomenologiese onderhoude aangevul deur memorandering, opstelle deur deelnemers, 'n fokusgroepbespreking en veldnotas word gebruik. Voorts word die ontvouing van die data deur middel van 'n vereenvoudigde weergawe van Hycner (1999) se proses van die data verduidelik. Laastens bevat die artikel kommentaar omtrent die geldigheids- en betroubaarheidsmaatreëls, asook 'n sinopsis van die bevindinge van die studie.

Sleutelwoorde: Fenomenologie, metodologie, Husserl

Sitasie-inligting:
Groenewald, T. (2004). 'n Fenomenologiese navorsingsontwerp geïllustreer. International Journal of Qualitative Methods, 3(1). Artikel 4. Besoek [Voeg datum in] aan http://www.ualberta.ca/~iiqm/backissues/3_1/html/groenewald_africaans.html


Inleiding

Beginnernavorsers word dikwels oorweldig deur die oorvloed van navorsingsmetodologieë wat die keuse van 'n toepaslike navorsingsontwerp vir 'n sekere studie moeilik maak. Die doel van hierdie artikel is om aan navorsers - beginner- sowel as ervare maar met min ondervinding in die fenomenologie - 'n volledige ontwerp te illustreer, kompleet met 'n uiteensetting van hoe dit geïmplementeer is.

Na afloop van sewe jaar van studie oor navorsingsmetodologie (insluitend tydperke van formele studie, asook die bywoning van kort kursusse en selfstudie) het die navorser tot die gevolgtrekking gekom dat 'n mens 'n begrip van 'n ontsaglike verskeidenheid van navorsingsmetodologieë nodig het om die toepaslikste ontwerp, of kombinasie van ontwerpe, wat die geskikste vir 'n sekere studie is, te kies. 'n Mens moet voorts 'n deeglike studie maak van die metodologie(ë) wat gekies is om goeie navorsingspraktyk te kan beoefen. Dikwels weerspreek outeurs mekaar wat dit noodsaaklik maak dat navorsers goedingeligte keuses moet kan maak, hulle keuses moet kan bekendmaak en dit kan substansieer.

Die navorser wou 'n aspek van die onderrig-leerpraktyk, naamlik koöperatiewe onderrig navors. Op grond van sy ondervinding en 'n literatuuroorsig het hy gevind dat hierdie aspek dikwels misverstaan of nie goed beoefen word nie. Hy het 'n toepaslike verkennende ontwerp nodig gehad wat sy eie vooroordele sou voorkom of beperk. Na 'n ondersoek het hy die fenomenologie gekies. Nadat 'n gepaste navorsingsontwerp gekies is, het hy gevind dat die biblioteek van die Randse Afrikaanse Universiteit oor 'n versameling van meer as 250 titels oor die fenomenologie beskik. Meeste van die titels is op die rakke onder die filosofie te vinde en die res onder Sielkunde, Literatuur/Tale, Opvoedkunde en Sosiologie. Hy het egter baie probleme ondervind om literatuur te bekom wat riglyne kon verskaf oor hoe om fenomenologiese navorsing te beoefen. Daarom, alhoewel hierdie artikel nie as gesaghebbend beskou word nie, word dit as 'n gids aan ander navorsers gebied om hulle frustrasie te bespaar.

Hierdie artikel sluit 'n kursoriese verduideliking van die fenomenologie as navorsingsparadigma in, gevolg deur 'n uiteensetting van die navorsingsontwerp soos wat dit vir 'n sekere studie ontvou het (Groenewald, 2003). Dit sluit die aanwysing van die deelnemers van die navorsing, die data-insameling en die databergingsmetodes wat gebruik is, in. Aangesien die doel van die artikel is om 'n fenomenologiese studie te illustreer, is die literatuuroorsig van die werklike studie nie ingesluit nie en slegs 'n samevatting van die bevindinge word gegee. 'n Oorsig van die fenomenologie volg.

Wat is die fenomenologie?

Europa het in ruïnes gelê aan die einde van die eerste Wêreldoorlog (1914-1918). Eagleton (1983, p.54) beskryf die situasie soos volg:

The social order of European capitalism had been shaken to its roots by the carnage of the war and its turbulant aftermath. The ideologies on which that order had customarily depended, the cultural values by which it ruled, were also in deep turmoil. Science seemed to have dwindled to a sterile positivism, a myopic obsession with the categorizing of facts facts, philosophy appeared torn between such a positivism on the one hand, and an indefensible subjectivism on the other, forms of relativism and irrationalism were rampant, and art reflected this bewildering loss of bearings.

In die konteks van hierdie ideologiese krisis, het die Duitse filosoof, Edmund Husserl (1859-1938) gepoog om 'n nuwe filosofiese metode daar te stel wat absolute sekerheid aan 'n disintegrerende samelewing kon verleen (Eagleton, 1983, p. 54). Alhoewel Kant en Hegel as die grondleggers van die fenomenologie beskou kan word, sien Vandenberg (1997, p.11) Husserl as die vader van die fenomenologie in die twintigste eeu.

Husserl (Eagleton, 1983; Fouché, 1993) verwerp die beskouing dat objekte in die eksterne wêreld onafhanklik kan bestaan en dat die inligting omtrent objekte betroubaar is. Hy argumenteer dat 'n mens seker kan wees oor hoedat dinge verskyn, of hulleself aan die bewustheid voorstel. Om by sekerheid uit te kom, moet enigiets buite die onmiddellike ondervinding geïgnoreer word, en in hierdie opsig word die eksterne wêreld gereduseer tot die inhoud van persoonlike bewustheid. Werklikhede word dus as suiwer "fenomene" beskou en die absolute data waarvandaan daar vertrek moet word. Husserl het sy filosofiese metode die "fenomenologie" genoem - die wetenskap van suiwer fenomene (Eagleton, 1983, p. 55). Die doel van die fenomenologie is die terugkeer na die konkrete, vasgelê deur die leuse "Terug na die sake self!" (Eagleton, 1983, p. 56; Kruger, 1988, p. 28; Moustakas, 1994, p. 26).

Holloway (1997, p. 117) wys daarop dat Husserl 'n student van Frantz Brentano (1838-1917) was wat die basis vir die fenomenologie gelê het. Brentano het eerste die "opsetlike" aard van bewustheid of die "innerlike" ondervinding van om van iets bewus te wees beklemtoon (Holloway, 1997, p. 117). 'n Student van Husserl, Martin Heidegger (1889-1976), het die konsep van "Dasein" of "daar-wees" bekendgestel asook die dialoog tussen 'n persoon en sy/haar wêreld. Heidegger en Husserl het respektiewelik die "wêreld waarin ons leef en die "Lebenswelt" in terme van 'n gemiddelde bestaan in 'n alledaagse wêreld verken (Schwandt, 1997). 'n Volgeling, Alfred Schultz 1899-1956), het die idee verder geneem dat die menslike wêreld uit verskillende afdelings van betekenis bestaan (Vandenberg, 1997, p. 7). Die eksistensiële fenomenologie van Heidegger is voortgedra deur onder andere Jean-Paul Sartre (1905-1980) en Maurice Merleau-Ponty (1908-1961). Die werke van Sartre en Merleau-Ponty het die invloed van Husserl en Heidegger aansienlik uitgebrei (Vandenberg, 1997).

Teen 1970 het die fenomenologie egter nog nie ditself as 'n lewensvatbare alternatief tot die tradisionele natuurlike wetenskaplike benadering in sielkundige navorsing gevestig nie (Stones, 1988, p.141). Volgens Giorgi (soos aangehaal deur Stones) was die rede hiervoor dat 'n fenomenologiese praxis nie op 'n sistematiese en volgehoue wyse ontwikkel is nie (Schwandt, 1997). In hierdie verband merk Lippitz (1997, p.69) op dat alhoewel die fenomenologie gedurende die eerste twintig jaar na die Tweede Wêreldoorlog gefloreer het, was hierdie benadering vir 'n ruk lank vergete. In die 1970's het fenomenologiese sielkundiges egter 'n praxis gevestig, wat 'n metodologiese verwerkliking van die fenomenologiese filosofiese houding was (Stones, 1988).

Vir Giorgi is die operatiewe woord in fenomenologiese navorsing "beskryf". Die doel van die navorsers is om die fenomeen so akkuraat as moontlik te beskryf, hulleself van enige voorafopgestelde raamwerk te weerhou en tog waarheidsgetrou te bly. Volgens Welman en Kruger (1999, 189) is fenomenoloë begaan oor 'n begrip van die sosiale en sielkundige fenomene vanuit die perspektiewe van die persone wat betrokke is. Husserl se filosofiese fenomenologie het 'n vertrekpunt vir Alfred Schultz verskaf wat dit verander het tot die wyses waarop fewone lede van die samelewing ag gegee op hulle alledaagse (Gubrium & Holstein, 2000, pp.488-489). 'n Navorser wat die fenomenologie toepas is begaan oor die ondervindinge wat mense beleef het (Greene, 1997; Holloway, 1997; Kruger, 1988; Kvale, 1996; Mypole & Davies, 2001; Robinson & Reed, 1998) wat by die aangeleentheid wat nagevors word betrokke is, of wat daarby betrokke was. Die woorde van Vandenberg, vertaal deur Van Manen (1997, p. 41), is by uitstek 'n opsomming van wat in die bogenoemde paragraaf bespreek is:

[Phenomena] have something to say to us - this is common knowledge among poets and painters. Therefore poets and painters are born phenomenologists; the poets and painters among us, however, understand very well their task of sharing, by means of word and image, their insights with others - an artfulness that is also laboriously practised by the professional phenomenologist.

Holloway (1997) stel dit dat navorsers wat die fenomenologie gebruik huiwerig is om tegnieke voor te skryf. Hycner (1999, p. 143) onderskryf dit deur te beweer dat fenomenoloë.huiwerrig is om te veel op sekere stappe te konsentreer Hy gaan voort deur te sê dat 'n mens nie 'n metode op 'n fenomeen kan afdwing nie aangesien dit groot onreg aan die integriteit van daardie fenomeen kan doen (p. 144). Sekere riglyne is egter noodsaaklik, veral vir beginnernavorsers.

Noudat die fenomenologie verken is, sal die wyse waarop die navorsing ontvou het in die volgende afdeling uiteengesit word. Dit begin met 'n oorsig van die navorsingsparadigma, daarna volg 'n beskrywing van die aanwysing van die deelnemers van die navorsing, gevolg deur die data-insamelingsmetodes waarna databergingsmetodes bespreek sal word. Laastens volg 'n verduideliking van die ontvouing van die data wat uit verskillende stadia bestaan.

Die wyse waarop die studie ontvou het

Die navorsingsparadigma van 'n studie wat onderneem is

'n Goeie navorsingsonderneming begin met die keuse van die onderwerp, probleem of area van belangstelling, asook met die paradigma (Creswell, 1994: Mason, 1996). Stanage (1987) het die term "paradigma" se spore terug tot by die Griekse ("paradeigma") en Latynse oorspronge gevolg. Dit beteken patroon, model of voorbeeld. 'n Paradigma is die modellering van die denke van 'n persoon, dit is die vernaamste voorbeeld tussen voorbeelde, 'n eksemplaar of model om na te volg waarvolgens ontwerpaksies geneem word. Anders gestel, 'n paradigma is 'n aksie om 'n siening voor te stel (Stanafo, 1987). Hierdie siening word deur Denzin en Lincoln (2000, p. 157) ondersteun. Hulle definieer 'n navorsingsparadigma as "a basic set of beliefs that guide action", dit wat oor "grondbeginsels" of die navorser se wêreldbeskouing gaan.

Volgens Holloway (1997), Mason (1996) en Creswell (1994) is navorsers se epistemologie letterlik hulle teorie van kennis wat help om te besluit hoe die sosiale fenomene bestudeer sal word. Volgens die studie wat die navorser onderneem het kan sy epistemologiese posisie soos volg geformuleer word a) data word omvat binne die perspektiewe van persone wat by koöperatiewe onderwysprogramme betrokke is, óf in 'n koördinerende kapasiteit óf as deelnemers van die program; en b) as gevolg hiervan het hy by die deelnemers betrokke geraak tydens die versameling van die data.

Gebaseer op Davidson (2000) en Jones (2001) het die navorser die fenomenologiese metodologie as die beste metode vir hierdie tipe studie geïdentifiseer. Fenomenoloë, in teenstelling met positiviste, glo dat die navorser nie van sy voorveronderstellings losgemaak kan word nie en dat die navorser nie anders moet voorgee nie (Hammersley, 2000). In hierdie opsig stel Mouton en Marais (1990, p. 12) dit dat individuele navorsers eksplisiete oortuigings het. By die aanvang van hierdie navorsing was die oogmerk (preliminêre fokus) om data te versamel in verband met die perspektiewe van navorsingsdeelnemers omtrent die fenomeen die toename van talent en die bydrae van koöperatiewe onderwys in hierdie proses.

Ter wille van die duidelikheid van hierdie illustrasie as voorbeeld, het die navorser dit nodig geag om te spesifiseer wat bedoel word wanneer daar na koöperatiewe onderwys en talent verwys word. In die eerste instansie definieer die International Dictionary of Adult and Continuing Education (Jarvis & Wilson, 1999, p. 37) koöperatiewe onderwys en koöperatiewe programme respektiewelik soos volg:

A form of education in which the school [educational institution] and the occupational field co-operate in order to provide a joint educational programme with alternate attendance in both school and work. A concept used in US [United States of America] education.

The US equivalent of the sandwich course in the United Kingdom, where a student spends blocks of time in an educational institution and blocks in the workplace. Courses of this nature are usually either at professional qualification or undergraduate level.

Die tweede term, "talent", word algemeen verstaan as die aangebore gawes van 'n persoon, 'n spesiale aanleg (dikwels kreatief of kunssinnig), 'n gawe, of hoë verstandelike vermoë/intelligensie. Michaels, Handfield-Jones en Axelrod (2001), drie konsultante by McKinsey & Co, het die frases "the war for talent" en die "talent mind-set" geskep gebaseer op die geloof dat die volgehoue sukses van sake-ondernemings van die verwerwing en behoud van talent op alle vlakke van die organisasie afhang. Hulle definieer talent in terme van sleutelwerknemers wat gekenmerk word deur 'n skerpsinnige strategiese verstand, leierskapsvermoë, goeie kommunikasievaardighede, die vermoë om mense aan te trek en te inspireer, entrepreneursinstinkte, oor die nodige funksionele vaardighede te, en die vermoë om resultate te lewer.

Tot sover is verduidelik wat onder die fenomenologie verstaan word en die navorsingsparadigma van voltooide navorsingsondernemings is uiteengesit. In die volgende afdeling word die navorsingsteekproef (of meer gepas in 'n kwalitatiewe navorsingsontwerp van hierdie aard) of die wyse waarop die navorsingsdeelnemers opgespoor is, bespreek.

Opsporing van die navorsingsdeelnemers/informante

Volgens Hycner (1999, p. 156) dikteer die fenomeen die metode (en nie andersom nie) en dit sluit selfs die tipe deelnemers in. Die navorser het doelgerigte steekproeftrekking gekies. Dit word deur Welman en Kruger (1999) as die belangrikste tipe nie-waarskynlikheidsteekproeftrekking geag om primêre deelnemers te identifiseer. Die steekproef is volgens die navorser se eie oordeel en die doel van die navorsing gekies (Babbie, 1995; Greig & Taylor, 1999; Schwandt, 1997) terwyl hy op die uitkyk was vir persone wat ervarings gehad het wat verwant was aan die fenomeen wat nagevors moes word (Kruger, 1988, p. 150). Daar is van Internetsoektogte gebruik gemaak en en telefoniese navrae is gedoen by die kantore van die akademiese viserektore van al die hoër opvoedkundige instansies in Gauteng, Suid-Afrika, om die programbestuurders by sulke instansies te identifiseer wat verantwoordelik was vir opvoedkundige programme wat saamgestel was vir die behoeftes van en aangebied was in samewerking met die handel, die nywerheid en of die staat. Onderhoude is met hierdie programbestuurders gereël. Hierdie informante was die primêre eenheid van analise (Bless & Higson-Smith, 2000), met hulle "ingeligte toestemming" (Bailey, 1996, p. 11; Arksey & Knight, 1999; Street, 1998).

Ten einde addisionele deelnemers of informante op te spoor, is van sneeubalsteekproeftrekking gebruik gemaak. Die sneeubalmetode is 'n metode om die steekproef uit te brei deur een informant of deelnemer te vra om ander vir onderhoudvoering aan te beveel (Babbie, 1995; Crabtree & Miller, 1992). Bailey (1996), Holloway (1997) en Greig en Taylor (1999) noem diegene waardeur toegang verkry word hekwagters en daardie persone wat hulp aanbied sleutelakteurs of sleuteIingewydes. (Histories was die algemene term informante, 'n term wat besig is om sy populariteit te verloor vanweë negatiewe konnotasies.) Neumann (2000) kwalifiseer 'n hekwagter as iemand met die formele of informele outoriteit om toegang tot 'n terrein te beheer (p. 352), 'n persoon van wie toestemming vereis word. Sleutelingewydes neem dikwels 'n navorser aan. Bailey (1996) waarsku dat sodanige aanneming die navorser van sekere potensiële informante of deelnemers kan isoleer. Die deelnemers in die doelgerigte steekproef is versoek om volgens hulle diskresie die name en kontakbesonderhede te verskaf van persone in die handel, die nywerheid en/of die staat wat a) medeverantwoordelik vir die opvoedkundige programme was; en b) wat aan die programme wat aangebied was deelgeneem het. Ongeag van hierdie strategieë het die mees akkommoderende hekwagters, soos Neumann (2000) waarsku, tot 'n sekere mate die verloop van die navorsing beïnvloed deur die navorser byvoorbeeld te lei om na "leerlingskappe" te kyk.

Ten einde etiese navorsing te verseker, het die navorser van ingeligte toestemming gebruik gemaak (Holloway, 1997; Kvale, 1996). Bailey (1996) waarsku dat misleiding teenproduktief mag wees. Om egter nie die leidende sentrale navorsingsvraag te vra nie (Kvale, 1996) (bespreek onder die volgende opskrif) word nie as misleiding beskou nie. Gebaseer op Bailey (1996, p. 11) se aanbevole items, is 'n spesifieke ingeligte toestemmings"ooreenkoms" ontwikkel om die ingeligte toestemming van die informante te verkry, naamlik:

Bailey (1994) neem verder waar dat misleiding insigte mag voorkom, terwyl openhartigheid gepaard met 'n vertrouensverhouding agterdog voorkom en eerlike antwoorde bevorder. Die "ingeligte toestemmingsooreenkoms"-vorm is aan die deelnemers aan die begin van elke onderhoud verduidelik. Meeste potensiële deelnemers het die ooreenkoms geteken en diegene wat dit nie gedoen het nie is nie onder druk geplaas om te teken nie. Alle deelnemers het egter akkoord gegaan met die inhoud daarvan.

Aangesien Boyd (2001) twee tot 10 deelnemers of navorsingsdeelnemers as voldoende beskou om versadiging te bereik en Creswell (1998, pp. 65 & 113) lang onderhoude met tot 10 persone vir 'n fenomenologiese studie aanbeveel, is 'n steekproefgrootte van tien bestuurders, vyf persone verantwoordelik vir opvoedkundige programme en vyf by medewerkende maatskappye, gekies. Bykomend tot die tien informante, was een groep van programdeelnemers (studente) versoek om opstelle oor hulle belewenisse te skryf. By 'n ander groep van programdeelnemers, het sommige aan 'n fokusgroepbespreking deelgeneem, terwyl ander opstelle geskryf het. Die doel van die versameling van die data van drie verskillende tipes van informante dus 'n vorm van triangulering "datatriangulering" om die data te kontrasteer en die data "geldig te maak" indien dit soortgelyke bevindinge "oplewer" (Arksey & Knight, 1999; Bloor, 1997; Holloway, 1997). Data-insamelingsonderhoude het voortgeduur totdat die onderwerp uitgeput of versadig was, dit is wanneer subjekte (informante) geen nuwe perspektiewe oor die onderwerp aangebied het nie.

Data-insamelingsmetodes

Die spesifieke "fenomene" (van die Griekse woord "phanomai", wat "ek verskyn" beteken) waarop gefokus is was koöperatiewe onderwys, en meer spesifiek die gesamentlike ondernemings (voltooid en/of aan die gang) tussen onderwysinstansies en ondernemings om mense te onderrig en talent te laat toeneem. Die sentrale navorsingsvraag was: Wat is die bydrae wat koöperatiewe onderwys kan maak in die toename van talent van die Suid-Afrikaanse bevolking? Bentz en Shapiro (1998) en Kenzit (2000) waarsku egter dat die navorser die data moet toelaat om tevoorskyn te tree: Om die "fenomenologie te beoefen" behels die ryk beskrywings van fenomene en hulle omgewings (p. 104). Vir hierdie rede was die werklike navorsingsvrae wat aan die deelnemers (beide akademici en verteenwoordigers van ondernemings betrokke) gevra was die volgende:

Kvale (1996) trek 'n soortgelyke onderskeid tussen die navorsingsvraag en die onderhoudsvraag. Voorts was dit belangrik om in gedagte te hou dat die bevindinge mag illustreer, al dan nie, dat die praktyk van koöperatiewe onderwys tot die toename van talent bydra. In hierdie verband stel Jon Kabat-Zinn (aangehaal in Bentz & Shapiro, 1998, p. 39) dit dat ondersoek nie beteken om vir antwoorde te soek nie (aangehaal deur Bentz & Shapiro, 1998, p. 39).

Ongestruktureerde in-diepte fenomenologiese onderhoude is met beide die programbestuurders in onderwysinstansies en met die verteenwoordigers van ondernemings gevoer. In die res van hierdie paragraaf word 'n uiteensetting gegee van die wyse waarop hierdie onderhoude gevoer is. Die vrae was gerig op die deelnemers se belewenisse, gevoelens, veronderstellings en oortuigings omtrent die onderwerp wat ter sprake was (Welman & Kruger, 1999, p. 196). Volgens Bentz en Shapiro (1998), het Husserl dit "tussen-hakies-plaas" genoem wanneer die ondersoek vanuit die perspektief van die navorser gedoen is.In hierdie studie behels "in hakies-plaas" (Caelli, 2001; Davidson, 2000; King, 1994; Kruger, 1988; Kvale, 1996) dat die deelnemers/informante versoek was om hulle belewenisse omtrent die onderwysprogram waarin saamgewerk was opsy te skuif en om hulle nabetragting oor die waarde daarvan te deel. Data is verkry oor hoe die deelnemers op die mees direkte wyses gedink en gevoel het (Bentz & Shapiro, 1998, p. 96). Daar is gefokus op wat binne-in die deelnemers aangaan en die deelnemers het die ondervindinge wat beleef is so vry as moontlik van die konstrukte van die intellek en die samelewing as moontlik te laat beskryf. Hierdie is een manier van "in-hakies-plaas". Daar is ook 'n tweede vorm van "in-hakies-plaas", wat, volgens Miller en Crabtree (1992, p. 24) beteken dat die navorser sy/haar eie voorveronderstellings "in hakies moet plaas", die individu se leefwêreld betree en die self gebruik as 'n interpreteerder wat beleef. Moustakas (1994, p. 85) wys daarop dat Husserl die vryheid van veronderstellings die "epog", 'n Griekse woord wat beteken om weg te bly of jou te onthou, genoem het. Volgens Bailey (1996, p. 72) is die informele onderhoud 'n bewustelike poging van die navorser om meer inligting omtrent die omstandighede van die persoon uit te vind. Die onderhoud is wederkerig: beide navorser en die navorsingsubjek is in die dialoog betrokke. Daar is gevind dat die duur van die onderhoude en die aantal vrae van een deelnemer na die volgende verskil.

Met verwysing na datavaslegging gedurende die kwalitatiewe onderhoud merk Kvale (1996) dat dit letterlik 'n twee-gesprek is, 'n uitruil van menings tussen twee persone wat in gesprek tree oor 'n onderwerp van gemeenskaplike belang waar die navorser poog om die wêreld vanuit die deelnemer se oogpunt te kan sien, om betekenis aan die persone se belewenisse te gee (pp. 1-2). Die fenomenologie beoog om die fenomene in hulle eie voorwaardes te verstaan - om 'n beskrywing van menslike ondervinding te gee soos wat dit deur die persoon self beleef is (Bentz & Shapiro, 1998, p. 96) en om die essensies toe te laat om te verskyn (Cameron, Schaffler & Hycon-Ae, 2001). Die maxim van Edmund Husserl is "terug na die sake self!" (Kruger, 1988, p. 28).

"Memorandering" (Miles & Huberman, 1984, p. 69) is nog 'n belangrike databron in kwalitatiewe navorsing wat in hierdie studie gebruik is. Dit is die navorser se veldnotas wat notuleer wat die navorser hoor, sien, ondervind en dink in die verloop van die insameling en nabetragting oor die proses. Navorsers word maklik geabsorbeer in die data-insamelingsproses en mag nalaat om te reflekteer oor dit wat besig is om plaas te vind. Dit is egter belangrik dat die navorser 'n balans moet handhaaf tussen beskrywende en reflektiewe notas, soos voorgevoelens, indrukke en gevoelens. Miles en Huberman (1984) beklemtoon dat memorandums (veldnotas) gedateer moet word sodat die navorser dit later met die data kan korreleer.

Aanvullend tot die tien onderhoude wat in hierdie studie uitgevoer is, het die programbestuurders in twee onderwysinstansies toegang vir die programdeelnemers gereël. Afhangend van die omstandighede is daar direk met die programdeelnemers gepraat om hulle te vra om opstelle te skryf, of daar is deur die programbestuurder gewerk en die volgende versoek voorgelê:

Skryf u siening, perspektiewe of gevoelens omtrent die program wat u besig is om te ondergaan of wat u voltooi het, neer. U hoef nie u naam te gee nie. U hoef u nie te steur aan grammatika of spelling nie. Indien moontlik, vergelyk hierdie program met ander wat u mag gedoen het wat nie deur samewerking tussen 'n werkgewer en 'n onderwysinstansie aangebied word nie (of vergelyk hierdie program met suiwer akademiese programme bekend aan u deur gesprekke met ander studente).

Noudat die drie data-insamelingsmetodes verduidelik is, naamlik ongestruktureerde in-diepte fenomenologiese onderhoude, memorandering en opstelle, sal die datavaslegging verduidelik word.

Datavasleggingsmetodes

All die onderhoude is met die toestemming van die informante op band geneem (Arkley & Knight, 1999; Bailey, 1996). Aan elke onderhoud is 'n kode toegeken, byvoorbeeld "Deelnemer, 21 Mei 2002". Waar meer as een onderhoud op 'n spesifieke datum plaasgevind het, was die verskillende onderhoude deur 'n letter van die alfabet geïdentifiseer (Deelnemer-B, 18 Junie 2002). Elke onderhoud op 'n aparte kasset opgeneem. Elke kasset is met die toegekende onderhoudkode geëtiketteer. Die navorser het so gou as moontlik na elke onderhoud na die opname geluister en notas gemaak. Sleutelwoorde, -frases en verklarings is getranskribeer om die stemme van navorsingsdeelnemers/informante toe te laat om te praat.

Die woorde van waarskuwing deur Easton, McComish en Greenberg (2000) dat toerusting wat breek en omgewingstoestande die navorsing ernstig mag bedreig, is in gedagte gehou. Hulle beveel aan dat die navorser te alle tye moet verseker dat opnametoerusting goed werk en dat spaarbatterye, bande, ensovoorts, beskikbaar is. Die onderhoudsomgewing moet voorts so vry as moontlik van agtergrondgeraas en onderbrekings wees.

Veldnotas is 'n sekondêre datavasleggingsmetode in kwalitatiewe navorsing. Aangesien die menslike verstand geneig is om gou te vergeet, is veldnotas deur die navorser essensieel in kwalitatiewe navorsing om die data wat ingesamel is te behou (Lofland & Lofland, 1999). Dit impliseer dat die navorser gedissiplineerd moet wees om na elke onderhoud so volledig as moontlik te notuleer, maar sonder oordeelvellende evaluering, byvoorbeeld: "Wat het gebeur en wat was betrokke? Wie was betrokke? Waar het die aktiwiteite plaasgevind? Hoekom het 'n insident plaasgevind en hoe het dit werklik gebeur?" Lofland en Lofland (1999, p. 5) beklemtoon voorts dat veldnotas nie later as die oggend daarna geskryf moet word nie. Afgesien van dissipline behels veldnotas ook "luck, feelings, timing, whimsy and art" (Bailey, 1996, p. xiii). Die metode wat in hierdie studie gevolg is is gebaseer op 'n model of skema wat deur Leonard Schatzman en Anselm Strauss ontwikkel is en deur Robert Burgess aangevul. Vier tipes veldnotas is gemaak:

Op hierdie stadium, is dit belangrik om kennis te neem dat veldnotas alreeds 'n stap na die data analise toe is. Morgan (1997, pp. 57-58) merk op dat aangesien veldnotas interpretasie behels, hulle streng gesproke deel van die analise eerder as die data-insameling is. Daar moet in gedagte gehou word dat die fenomenologie basies om die bewuste menslike wese, of die ondervindinge van die deelnemers in die navorsing gaan (Bentz & Shapiro, 1998, p. 98; Heron, 1996). Dit is dus baie belangrik dat die navorser so ver as moontlik moet voorkom dat die data voortydig gekategoriseer of in die navorser se vooroordeel "gedruk" word omtrent die potensiële bydrae van koöperatiewe onderwys in die toename van talent. Die skryf van veldnotas gedurende die navorsingsproses dwing die navorser om duidelikheid oor elke onderhoudsopset te verkry (Caseli, 2001; Miles & Huberman, 1984).

'n Lêer is geopen met afdelings vir die verskillende onderhoude en die volgende dokumentasie is geliasseer:

Datavaslegging sluit in bandopnames, veldnotas en liassering van dokumentasie. Die onderhoudtranskripsies en veldnotas was ook elektronies op veelvuldige harde skywe gestoor. Die data-analise, of eerder ontvouing van die data, word vervolgens verduidelik.

 

Ontvouing van die data

Die opskrif "data-analise" word met opset hier vermy aangesien Hycner (1999, p. 161) waarsku dat die term "analise" gevaarlike konnotasies vir die fenomenologie het. Volgens hom beteken hierdie term gewoonlik om in dele te breek en daarom lei dit dikwels tot 'n verlies van die hele fenomeen terwyl "ontvouing" 'n ondersoek van die samestellings van 'n fenomeen impliseer terwyl die konteks van die geheel behou word. Coffey en Atkinson (1996, p. 9) beskou analise as die sistematiese prosedures om essensiële kenmerke en verhoudings te identifiseer. Dit is 'n manier om die data deur interpretasie te transformeer. Noudat die term "ontvouing" verduidelik is, kom 'n vereenvoudigde weergawe van Hycner (1999) se ontvouingsproses wat die skrywer in sy navorsing gebruik het aan die beurt. Hierdie ontvoungsproses het vyf "stappe" of fases naamlik:

1. "In- hakies-plaas" en fenomenologiese reduksie.

2. Delineasie van eenhede van betekenis.

3. Groepering van betekeniseenhede om temas te vorm.

4. Opsomming van elke onderhoud, geldigmaking daarvan en waar nodig die wysiging daarvan.

5. Uittreksels van algemene en unieke temas van al die onderhoude en die maak van 'n saamgestelde opsomming.

1. "In-hakies-plaas" en fenomenologiese reduksie. Die term "reduksie" wat deur Husserl gebruik is, word deur Hycner (1999) as ontoepaslik beskou aangesien dit niks te make het met die reduksionistiese natuurlike wetenskapsmetodologie nie. Dit kan 'n groot onreg aan menslike fenomene doen deur ooranalise, verwydering van die beleefde kontekste van die fenomene en, erger, moontlik die fenomene na oorsaak en gevolg reduseer. Fenomenologiese reduksie tot "suiwer subjektiwiteit" (Lauer, 1958, 50) in die plek daarvan, is 'n opsetlike en doelgerigte inleiding deur die navorser tot die fenomeen in sy eie reg met sy eie betekenis (Fouche, 1993; Hycner, 1999). Voorts dui dit op 'n opskorting of "in hakies plaas" (of epog), in 'n sekere sin dat in hierdie verband geen stelling daarvoor of daarteen ingeneem word nie (Lauer, 1958, p. 49) dat die navorser se eie voorveronderstellings vooropgestel word en die navorser se betekenisse en interpretasies of teoretiese konsepte nie toegelaat word om die unieke wêreld van die informant/deelnemer te betree nie (Creswell, 1998, pp. 54 & 113; Moustakas, 1994, p. 90; Sadala & Adorno, 2001). Hierdie is 'n ander voorstelling van die term "in hakies plaas" wat gebruik word wanneer 'n onderhoud plaasvind om die fenomeen wat nagevors word vir die in-hakies-plaas. Hier verwys dit na die in-hakies-plaas van die navorser se persoonlike menings of voorveronderstellings (Miller & Crabtree, 1992).

Holloway (1997) en Hycner (1999) beveel aan dat die navorser herhaaldelik na die bandopname van elke onderhoud moet luister om met die woorde van die informant bekend te word te word en sodoende 'n holistiese insig, die "gestalt" te ontwikkel. Zinker (1978) verduidelik dat die term "fenomenologie" 'n proses impliseer, wat die unieke eie ondervindinge van die navorsingsdeelnemers beklemtoon. Die hier-en-nou-dimensies van daardie persoonlike ondervindinge gee aan fenomene eksistensiële onmiddellikheid.

2. Deliniëring van eenhede van betekenis. Hierdie is 'n kritiese fase van die ontwikkeling van die data, in die sin dat daardie mededelings wat die nagevorste fenomeen kan toelig uitgelig of geïsoleer word (Creswell, 1998; Holloway, 1997; Hycner, 1999) Daar word van navorsers verwag om 'n substansiële aantal oordeelvellende besoeke te bring terwyl hulle bewustelik hulle eie voorveronderstellings in hakies plaas om ontoepaslike subjektiewe oordele te vermy.

Die lys van eenhede van tersaaklike betekenis wat 'n uittreksel van elke onderhoud is moet deeglik ondersoek en die duidelik oorbodige eenhede geëlimineer word (Moustakas, 1994). Om dit te doen het die navorser die letterlike inhoud, die aantal (die betekenis) kere wat 'n betekenis genoem is en ook hoe (nie-verbale of paralinguïstiese aanduidings ) vermeld. Die werklike betekenis van twee oënskynlik eenderse betekeniseenhede mag verskil in terme van gewig of chronologie van gebeure (Hycner, 1999).

3. Groepering van betekeniseenhede om temas te vorm. Met die lys van nie-oortollige betekeniseenhede in die hand moet die navorser weer sy of haar voorveronderstellings in hakies plaas om getrou aan die fenomeen te bly. Deur die lys van betekeniseenhede nougeset in oënskou te neem poog die navorser om die essensie van betekeniseenhede binne die holistiese konteks aan die lig te bring. Hycner (1999) merk op dat dit selfs meer oordeel en vaardigheid van die navorser verg. Colaizzi (soos aangehaal deur Hycner, 1999, pp. 150-151) maak die volgende opmerking omtrent die navorser se "artistieke" oordeel hier: "Particularly in this step is the phenomological researcher engaged in something which cannot be precisely delineated, for here he is involved in that ineffable thing known as creative insight".

Groeperinge van temas word tipies gevorm deur betekeniseenhede saam te voeg (Creswell, 1998; King, 1994; Moustakas, 1994) en die navorser identifiseer betekenisvolle onderwerpe, wat ook betekeniseenhede genoem word (Sadala & Adorno, 2001). Beide Holloway (1997) en Hycner (1999) beklemtoon die belangrikheid daarvan om terug na die onderhoud (die gestalt) wat op band geneem is en daarna na die lys van nie-oorbodige betekeniseenhede te gaan om groeperinge van toepaslike betekenis af te lei. Daar is dikwels oorvleueling wat te wagte kan wees as die aard van menslike fenomene in aanmerking geneem word. Deur die betekenis van die verskillende groeperinge te ondersoek, word sentrale temas bepaal, wat die essensie van hierdie groeperinge aandui (Hycner, 1999, p. 153).

Coffey en Atkinson (1996) en King (1994) merk op dat baie kwalitatiewe analises ondersteun kan word deur 'n aantal persoonlike rekenaar-sagtewarepakkette wat sedert die 1980's ontwikkel is. Daar is egter geen sagtewarepakket wat die analise opsigself sal doen nie (Coffrey & Atkinson, 1996, p. 196) en die begrip van die betekenis van fenomene kan nie gerekenariseer word nie aangesien dit nie 'n algoritmiese proses is nie (Kelle, 1995, p. 3). In ander vorme van kwalitatiewe navorsing kan sagtewarepakkette (soos ATLAS.ti, NUD*IST, Ethnograph) gebruik word om die moeisame taak van die analise van teksgebaseerde data (Kelle, 1995) deur byvoorbeeld vinnige en gesofistikeerde soektogte en reël-vir-reël-kodering baas te raak. Hierdie programme help egter nie met die beoefening van die fenomenologie nie.

4. Opsomming van elke onderhoud, geldigmaking en wysiging daarvan. 'n Opsomming wat al die temas van die data wat uitgelig is inkorporeer, gee 'n holistiese konteks. Ellenberger (soos aangehaal deur Hycner, 1999, pp. 153-154) stel dit soos volg:

"Whatever the method used for a phenomenological analysis the aim of the investigator is the reconstruction of the inner world of experience of the subject. Each individual has its own way of experiencing temporality, spatiality, materiality, but each of these coordinates must be understood in relation to the others and to the total inner 'world'.

Op hierdie tydstip voer die navorser 'n "geldigheidstoets" uit deur terug te keer na die informant om vas te stel of die essensie van die onderhoud korrek vasgelê is (Hycner, 1999, p. 154). Enige wysiging nodig word gedoen na aanleiding van hierdie "geldigheidstoets".

5. Algemene en unieke temas vir al die onderhoude en saamgestelde opsomming. As die proses soos geskets in punte 1 tot 4 voor al die onderhoude plaasgevind het, soek die navorser na die temas wat algemeen in die meeste onderhoude voorgekom het asook na die individuele variasies (Hycner, 1999, p. 154). Die navorser moet sekermaak dat algemene temas nie gegroepeer word indien betekenisvolle temas bestaan nie. Die unieke of minderheidstemme is belangrike kontrapunte om uit te bring in verband met die fenomeen wat ondersoek word.

Die navorser sluit die ontwikkeling af deur 'n saamgestelde opsomming te skryf, wat die konteks of "horison" waarvan die temas te voorskyn getree het moet reflekteer (Hycner, 1999; Moustakas, 1994). Volgens Sadala en Adorno (2001, p. 289) moet die navorser op hierdie tydstip die deelnemers se alledaagse uitdrukkings verander in wat toepaslik is tot die wetenskaplike diskoers wat die navorsing ondersteun. Coffey en Atkinson (1996, p. 139) beklemtoon egter dat goeie navorsing nie slegs deur nougesette data alleen gegenereer word nie, maar oortref word deur die data om idees te ontwikkel. Voorlopige teoretisering, ongeag hoe beperk, word van die kwalitatiewe data afgelei. Die volgende paragraaf bevat 'n paar riglyne in verband met die geldigheid en betroubaarheid van die studie.

Geldigheid en betroubaarheid

Schurink, Schurink en Poggenpoel (1998) beklemtoon die waarheidswaarde van kwalitatiewe navorsing en noem 'n aantal middele om waarheid te verkry. In hierdie studie het die fenomenologiese navorsingsontwerp tot die waarheid bygedra. Die navorser het homself bewustelik in hakies geplaas om in terme van die perspektiewe van die deelnemers met wie onderhoude gevoer is om die fenomeen te verstaan wat hy besig was om te bestudeer. Die fokus was op die perspektief van 'n ingewyde (Mouton & Marais, 1970, p. 70). Deurdat die navorser homself weer tussen hakies plaas gedurende die transkripsies van die onderhoud, het verder tot waarheid bygedra. Daarna het die deelnemers 'n afskrif van die teks ontvang om te bevestig of dit hulle perspektiewe in verband met die fenomeen wat bestudeer is gereflekteer het. 'n Opsomming van die bevindinge van die voltooide studie word volgende aangebied.

Sinopsis van die navorsingsbevindinge

'n Wye spektrum van perspektiewe is gevind in verband met die fenomeen van gesamentlike onderwysondernemings en die waargenome waarde afgelei van sodanige samewerkingspogings. Onder andere het die betekenisvolle rol van die mentors en die belangrikheid van toepaslike toesighouding van werk-gebaseerde leer uitgestaan. Gepaard hiermee was die belangrikheid van toewyding deur werkgewers en die bevoegdheid om bestuursenergie te gebruik. Daar was egter probleme ondervind om gepaste ervaringsleergeleenthede te vind. Die persepsie het bestaan dat ervaringsleer nie waarde toevoeg nie vanweë tekortkominge van ervaringsleer en die inperkinge wat ondervind is in verband die behoorlike bestuur daarvan. Gebaseer op die goeie resultate wat egter afgelei is van indiensopleiding en tevredenheid met die integrasie van teorie en praktyk, 'n Teenstellende perspektief was ondervind. Leerderskappe as 'n element van die Nasonale Vaardigheidsontwikkelingstrategie was verder as belangrik beskou en bydraend tot die samelewing as geheel. 'n Ander belangrike perspektief was die nodige beantwoording van die behoeftes van ondernemings deur onderwysinstansies. Alhoewel sommige onderwys vennootskappe toegespits is op die organisatoriese behoeftes wat bestaan het, was die nalatigheid van onderwysinstansies en onbuigsaamheid van vennootskappe ook teenwoordig.

Die oorkoepelende opsomming hierbo reflekteer slegs die temas wat algemeen in die meeste of al die onderhoude was. Individuele variasies of unieke temas (Hycner, 1999) is egter net so belangrik soos die ooreenkomste in verband met die fenomeen wat nagevors word.

Uit die studie wat onderneem is, blyk dit dat die logistiese organisasie en die koördinering van gesamentlike ondernemings tussen onderwysionstansies en ondernemings baie belangrike faktore in die toename van talent is.

Bronnelys

Arksey, H & Knight, P. 1999. Interviewing for social scientists. London: Sage.

Babbie, E. 1995. The practice of social research. 7th edition. Belmont, Californis.: Wadsworth.

Bailey, C.A. 1996. A guide to field research. Thousand Oaks, Calif.: Pine Forge.

Bentz, V.M. & Shapiro, J.J. 1998. Mindful enquiry in social research. Thousand Oaks, CA: Sage.

Bless, C. & Higson-Smith, C. 2000. Fundamentals of social research methods, an African perspective. 3rd edition. Lansdowne: Juta.

Bloor, M. 1997. Techniques of validation in qualitative research: a critical commentary. In Millar, G. & Dingwall, R. (eds.) (1997). Context and method in qualitative research (pp. 37-50). London: Sage.

Boyd, C.O. 2001. Phenomenology the method. In P.L. Munhall (Ed.), Nursing research: a qualitative perspective (pp. 93-122). 3rd edition. Sudbury, Mass: Jones & Bartlett.

Caelli, K. 2001. Engaging with phenomenology: is it more of a challenge than it needs to be? Quantitative Health Research, 11(2), 273-282.

Cameron, M.E., Schaffer, M. & Hyeoun, P. 2001. Nursing students' experience of ethical problems and use of ethical decision-making models. Nursing Ethics, 8(5), 432-448.

Coffey, A. & Atkinson, P. 1996. Making sense of qualitative data, complementary research strategies. Thousand Oaks: Sage.

Crabtree, B.F. & Miller, W.L. (eds.) 1992. Doing qualitative research. Research methods for primary care, Volume 3. Newbury Park: Sage.

Creswell, J.W. 1994. Research design, qualitative and quantitative approaches. Thousand Oaks: Sage.

Creswell, J.W. 1998. Qualitative inquiry and research design, choosing among five traditions. Thousand Oaks: Sage.

Davidson, J. 2000. A phenomenology of fear: Merleau-Ponty and agoraphobic life-worlds. Sociology of Health and Illness, 22(5), 640-681.

Denzin, N.K. & Lincoln, Y.S. (eds.) 2000. Handbook of qualitative research. 2nd edition. Thousand Oaks: Sage.

Eagleton, T. 1983. Literary theory, an introduction. Oxford: Basil Blackwell.

Easton, K.L., McComish, J.F. & Greenberg, R. 2000. Avoid common pitfalls in qualitative data collection and transcription. Qualitative Health Research, 10(5), 703-708.

Fouche, F. 1993. Phenomenological theory of human science (pp. 87-112). In J. Snyman (ed.), Conceptions of social inquiry. Pretoria: Human Science Research Council.

Greene, M. 1997. The lived world, literature and education (pp. 169-190). In D. Vandenberg (ed.), Phenomenology and education discourse. Johannesburg: Heinemann.

Greig, A. & Taylor, J. 1999. Doing research with children. London: Sage.

Groenewald, T. 2003. The contribution of co-operative education in the growing of talent.

D Phil dissertation, Rand Afrikaans University, Johannesburg.

Gubrium, J.F. & Holstein, J.A. 2000. Analyzing interpretive practice (pp. 487-508). In Denzin, N.K. & Lincoln, Y.S. (eds.) (2000). Handbook of qualitative research. 2nd edition. Thousand Oaks: Sage.

Hammersley, M. 2000. Taking sides in social research. London: Routledge.

Heron, J. 1996. Co-operative Inquiry, Research into the Human Condition. London: Sage.

Holloway, I. 1997. Basic concepts for qualitative research. Oxford: Blackwell Science.

Hycner, R.H. 1999. Some guidelines for the phenomenological analysis of interview data (pp. 143-164). In Bryman, A & Burgess, R.G. (eds.) (1999). Qualitative research. Volume III. London: Sage.

International Dictionary of Adult and Continuing Education (sien Jarvis and Wilson).

Jarvis, P. & Wilson, A.L. 1999. International dictionary of adult and continuing education. s.v. "co-operative education" and "co-operative programme". 2nd revised edition. London: Kogan Page.

Jones, A. 2001. Some experiences of professional practice and beneficial changes from clinical supervision by community Macmillan nurses. European Journal of Cancer Care, 10(1), 21-31.

Kelle, U. 1995. Introduction: an overview of computer-aided methods in qualitative research. In Kelle, U. (ed.) (1995). Computer-aided qualitative data analysis: theory, methods and practices. London: Sage.

Kensit, D.A. 2000. Rogerian theory: a critique of the effectiveness of pure client-centred therapy. Counselling Psychology Quarterly, 13(4), 345-342.

King, N. 1994. The qualitative research interview. In C. Cassell & G. Symon (eds.), Qualitative methods in organisational research, a practical guide. London: Sage.

Kruger, D. 1988. An introduction to phenomenological psychology. 2nd revised edition. Cape Town: Juta.

Kvale, S, 1996. Interviews, an introduction to qualitative research interviewing. Thousand Oaks: Sage.

Lauer, Q. 1958. Phenomenology, its genesis and prospects. New York: Harper.

Lippitz, W. 1997. Between 'unitary reason' and its pluralistic developments (pp. 69-100). In D. Vandenberg (ed.), Phenomenology & education discourse. Johannesburg: Heinemann.

Lofland, J. & Lofland, L.H. 1999. Data logging in observation: fieldnotes. In A. Bryman & R.G. Burgess (eds.), Qualitative research. Volume III. London: Sage.

Mason, J. 1996. Qualitative researching. London: Sage.

Maypole, J. & Davies, T.G. 2001. Students' perceptions of constructivist learning in a community college American History II. Community College Review, 29(2), 54-80.

Michaels, E., Handfield-Jones, H. & Axelrod, B. 2001. The war for talent. Boston, MA: Harvard Business School.

Miles, M.B. & Huberman, A.M. (1984). Qualitative data analysis, a sourcebook of new methods. Newbury Park, California.: Sage.

Miller, W.L. & Crabtree, B.F. 1992. Primary care research: a multimethod typology and qualitative road map. In B.F. Crabtree & W.L. Miller (eds.), Doing qualitative research. Research methods for primary care, Volume 3. Newbury Park: Sage.

Morgan, D.L. 1997. Focus groups as qualitative research. Thousand Oaks: Sage.

Moustakas, C. 1994. Phenomenological research methods. Thousand Oaks: Sage.

Mouton, J. & Marais, H.C. 1990. Basic concepts in the methodology of the social sciences. Revised edition. Pretoria: Human Sciences Research Council.

Neuman, W.L. 2000. Social research methods: qualitative and quantitative approaches. 4th edition. Boston: Allyn and Bacon.

Robinson, D. & Reed, V. (eds.) 1998. The A - Z of social research jargon. Aldershot: Ashgate.

Sadala, M.L.A. & Adorno, R.deC.F. 2001. Phenomenology as a method to investigate the experiences lived: a perspective from Husserl and Merleau Pontt's thought. Journal of Advanced Nursing, 37(3), 282-293.

Schurink, W.J. (2001). Notes of the recording of qualitative data, field notes, transcriptions of audio recordings and storage of qualitative data. Unpublished extracts by the author from lectures on models of qualitative research presented 7-9 May 2001 to the doctoral programme on leadership in performance and change. RAU. Department of Human Resources Management. Johannesburg.

Schurink, W.J., Schurink, E.M. & Poggenpoel, M. 1998. Focus group interviewing and audio-visual methodology in qualitative research. In A.S. De Vos (ed.), Research at grass roots, a primer in care professions. Pretoria; Van Schaik.

Schwandt, T.A. 1997. Qualitative inquiry, a dictionary of terms. Thousand Oaks: Sage.

Scolari. 2002. The research methods software division of Sage. Software by category. Retrieved May 2, 2002 from http://www.scolari.co.uk/.

Stanage, S.M. 1987. Adult education and phenomenological research, new directions for theory, practice and research. Malabar, Fla: Robert E. Krieger.

Stones, C.R. 1988. Research: toward a phenomenological praxis (pp. 141-156). In Kruger, D. (1988). An introduction to phenomenological psychology. 2nd revised edition. Cape Town: Juta.

Street, A. 1998. In/forming inside nursing: ethical dilemmas in critical research. In G. Shacklock & J. Smyth (Eds.), Being reflective in critical educational and social research. London: Falmer.

Vandenberg, D. (1997). Phenomenological research in the study of education (pp. 3-37). In D. Vandenberg (ed.), Phenomenology & education discourse. Johannesburg: Heinemann.

Van Manen, M. 1997. Phenomenological pedagogy and the question of meaning (pp. 41-68). In D. Vandenberg (ed.), Phenomenology & education discourse. Johannesburg: Heinemann.

Welman, J.C. & Kruger, S.J. 1999. Research methodology for the business and administrative sciences. Johannesburg: International Thompson.

Zinker, J. 1978. Creative process in gestalt therapy. New York: Vintage.